Afrikaans imageAfrikaans image
Bekendstelling

Die Pactum Instituut is 'n onafhanklike akademiese navorsingsinstituut wat ten doel het om die tradisionele Bybelse Christelike wêreldbeskouing te bevorder—veral op die terrein van die Teologie en Geesteswetenskappe.

"Pactum" is Latyn vir verbond—dit wat die Godgegewe grondslag vorm van die menslike samelewing.

Die Instituut wil die jammerlike gaping in die hedendaagse akademie—veroorsaak deur die sistematiese onverdraagsaamheid en vooroordeel teen die historiese en Bybelse Christendom—vul deur die volgende te bevorder deur middel van ons navorsing:

  1. Die gesag van die Skrif en veral die Konfessionele benadering tot Bibliologie.  
  2. Verbonds- of Federale Teologie as grondslag vir 'n Christelike samelewing.    
  3. Christus se Koningskap en Heerskappy oor die hele skepping en veral elke aspek van die menslike lewe.
  4. God se Wet as absolute morele rigsnoer vir elke sfeer van die samelewing.    
  5. Christelike Familialisme en Etniese Komplementarisme soos dit vergestald in die organiese en Godgegewe of normatiewe sosiale orde.  
  6. Die ontwikkeling van volhoubare, praktiese oplossings vir klein gemeenskappe binne die konteks van die kontemporêre samelewing gebaseer op die beginsel van subsidiariteit (of desentralisasie).

As uitvloeisel van verbonds- of federale teologie, volg dit dat die Pactum Instituut die kontemporêre oorheersing van die Kultuurmarxisme in die Westerse akademie die stryd aansê. Ons doen dit deur die bevordering van historiese Christelike leerstellings aangaande die Skrif, Gods Wet en Familialisme.

Die Christelike wêreldbeskouing word dan daardeur aan die breër publiek voorgehou as die enigste werklike alternatief tot die verrotting en verdorwenheid wat noodwendig volg op afvalligheid van die Christendom en die vernietigende gevolge van die Kultuurmarxisme vir die Westerse samelewing.

Navorsing fokus onder andere daarop om praktiese oplossings te ontwikkel vir tradisionele gemeenskappe en volke as 'n alternatief tot die globalistiese en modernistiese sosiale orde. Dit behels beide die teoretiese onderbou sowel as die praktiese implementering van die nodige sosio-ekonomiese en sosio-politieke strategieë om volhoubare verbondsgemeenskappe, gebaseer in die gesin en familie, te help bevorder.

Lees ons Afrikaanse artikels by www.wereldbeeld.org.

Vir verdere inligting, kontak ons by info@pactuminstitute.com.